HomeRespek en Maniere

Leer jou kind maniere

"Kinders grootmaak is veronderstel om lekker te wees". Hoeveel makliker is dit as jou kind respek het vir grootmense, beleefd is en empatie het vir ander...

Dit lyk vir my asof goeie maniere besig is om uit te sterf... Dit verbaas my as maatjies by ons kom kuier en die kinders is beleefd en goed gemanierd. Hoe anders is dit as jare gelede waar die minderheid  ongemanierde kinders was. By die kleuterskool sien ons dit op 'n daaglikse basis waar kinders die onderwyseresse sommer op die naam noem en jy en jou as aanspreekvorm gebruik.

“Die basis van maniere is eintlik respek – respek vir jouself en vir ander. Maniere is kultuurgebonde, maar respek en bedagsaamheid teenoor ander oorskry kulture; dis iets wat altyd van toepassing is.”

Die peutertyd, wanneer jou kleinding se woordeskat begin blom en hy ál meer dinge self kan doen, is die ideale tyd om die basiese beginsels van goeie maniere vas te lê. Die meeste ouers begin met asseblief en dankie, maar goeie maniere behels veel meer: Dit gaan oor die kweek van ’n ingesteldheid van respek en hoflikheid.

Jou peuter leer die heel maklikste deur spel en wanneer hy dinge oor en oor doen. So word ’n patroon so goed vasgelê dat hy later nie twee keer daaroor hoef te dink nie. Watter beter manier dus om maniere in te oefen as met speletjies wat julle albei sal geniet?

Leer hulle goeie maniere deur die voorbeeld te stel

Kinders leer deur die voorbeelde wat hulle sien, te volg. Dit is dus noodsaaklik dat jy as ouer self goedgemanierd moet wees as jy goeie maniere by jou kind wil inskerp. Party ouers het hulle kinders geleer om elke dag hulle bed op te maak voordat hulle skool toe gaan, om hulle klere weg te sit en om met huishoudelike takies te help. As 'n kind sien dat die res van die huis netjies en skoon is, is dit meer waarskynlik dat hulle hulle kamer en besittings netjies sal hou.

Ouers moet natuurlik hulle kinders help om te sien dat beleefdheid teenoor volwassenes verskil van onderworpenheid aan iemand wat dalk slegte beweegredes het. Kinders moet van die ouerdom van 3 geleer word dat daar grense is. Ouers kan hulle dan al ook begin leer om met respek op te tree teenoor ander deur “dankie en “asseblief” te sê. Wees ferm, maar bedagsaam teenoor jou kinders en moenie verwag dat hulle altyd hul samewerking gaan gee, wat hulle het slegs ‘n ander opinie oor die saak. Die belangrikste is egter om nie moed op te gee nie, hou aan met die lesse, jou kind sal dit wel leer, maar as jy opgee, sal jy beslis ‘n kind grootmaak wat nie maniere het nie.

Die towerwoordjies

Die woorde asseblief en dankie is gewoonlik die eerste merkbare tekens dat jou kleinding maniere begin leer, en sluit baie deure oop. Sodra ’n kind ná ’n jaar oud meer welsprekend word, is hy gereed om dié woorde in sy woordeskat op te neem – veral as hy dit al baie gehoor het.

’n Prettige manier om dit oor en oor te oefen, is met ’n teddiebeer-teepartytjie. Peuters begin rolspel geniet en jou kind sal daarvan hou om die “ma” te wees, die tee vir haar teddies te skink en dan daarop aan te dring dat hulle asseblief en dankie sê.

Stel eers die voorbeeld deur vir Teddie te vra: “Wil jy graag tee hê, Teddie?” Sê dan in Teddie se stem: “Asseblief, Mamma”. As Teddie vergeet om dankie te sê, vra jy: “Hoe sê ’n mens, Teddie?”

As jou kind die ritueeltjie herhaal en vir Teddie die towerwoorde uitwys, word die belangrikheid daarvan beklemtoon en oefen sy dit terselfdertyd.

Julle kan ook winkel-winkel speel waar jy die winkelier is en sy die kliënt wat iets moet vra en agterna dankie moet sê. Ná ’n rukkie kan julle rolle omruil.

Om jou beurt af te wag

Peuters verstaan nog nie die betekenis van geduld nie en dis vir hulle glad nie maklik om hul beurt af te wag voor hulle praat of iets doen nie.

Kry ’n mikrofoon soos dié wat sangers gebruik, of maak sommer jul eie uit ’n toiletrol en tafeltennisballetjie of uit ’n plastiekkoeldrankbotteltjie. Net die een wat die mikrofoon vashou, mag praat. Julle gee dus die mikrofoon vir mekaar oor en weer om spreekbeurte aan te dui.

As sy ’n spreekbeurt wil hê, moet sy aan jou arm raak om jou aandag te trek en kan jy jou sin klaarmaak voor jy die mikrofoon vir haar aangee – en andersom.

’n Prettige alternatief is om wydsbeen teenoor mekaar te sit en ’n bal heen en weer vir mekaar te rol om elkeen ’n spreekbeurt te gee.

Telefoontelefoon

Dit sal waarskynlik nog ’n hele paar jaar duur voor jy jou kleinding toelaat om jul huistelefoon te beantwoord, maar daar is geen beter tyd om telefoonmaniere vas te lê as in die peutertyd nie, want telefoon-telefoon is een van peuters se gunstelingspeletjies.

Die lekkerte is dat julle byna enigiets as ’n telefoon kan inspan – van ’n piesang tot ’n skoen – en dit op enige plek – van die motor tot die kombuis – kan oefen. Voer lekker lang gesprekke met mekaar, maar wys ook hoe om die telefoon te beantwoord as hy lui en hoe om te groet as sy afsluit.

Leer haar ook hoe sy die huistelefoon moet beantwoord as jy nie daar is nie.

Tafelmaniere

Net om jou kleinding sover te kry om saam met julle aan tafel stil te sit en nie sy kos op die vloer te gooi nie, is klaar ’n oorwinning op die pad na goeie maniere en vorm die basis waarop latere tafelmaniere soos toemond kou, elmboë van die tafel af en eet met ’n mes en vurk gebou sal word.

Jy kan tafelmaniere vir jou kleinding pret maak deur haar grootmens-grootmens te laat speel: Sit jou pasjmina om haar skouers en jou krale om haar nek, maar dan moet sy stilsit by die tafel en soos ’n grootmens eet deur jou na te aap.

Jy kan sê “Mammas eet toemond” en dan probeer julle dit albei doen, “Mammas vat hul lepels so” of “Mammas sê verskoon my asseblief voor hulle die tafel verlaat”. Teddie kan ook tafel toe genooi word om dit geselliger te maak en sy kan vir Teddie wys hoe ’n grootmens nou eintlik moet eet.

Onthou: Die beste plan vir goeie tafelmaniere leer is dat julle elke aand om die tafel sit en eet pleks daarvan dat jy jou kind voer of hy vingerkos eet terwyl almal se oë vasgenael is op 7de Laan.

Hallo ouma, hallo oupa!

Mense voel gou te na gekom as iemand hulle nie groet nie. Jou kleinding het babatyd al geleer hoe om tot siens te wuif as oupa en ouma ry. Bou hierop voort met speletjies wat groet aanmoedig sodat jou kind dit as vanselfsprekend aanvaar dat nuwe aankomelinge gegroet word en dat ’n mens weer tot siens sê as hulle weggaan.

Julle kan wegspring deur deur die huis te loop en vir die pret alles te groet sodra julle by ’n vertrek inkom: “Hallo yskas, hallo stoof!” en weer wanneer julle uitgaan: “Tot siens stoof! Tot siens yskas!”

Die regte tyd

Die ontwikkeling van kinders verskil van kind tot kind, afhangende van hulle persoonlikheid, temperament en jou ouerskapstyl “Om met respek teenoor ander op te tree, ontwikkel vanaf geboorte tot ongeveer sesjarige ouderdom. In hierdie ontwikkelingsfase luister kinders omdat hulle graag hulle ouers tevrede wil stel, maar probeer hulle ook om hulle eie wil te laat geld. As jy in hierdie fase die korrekte grondslag lê, sal jy ’n gebalanseerde kind hê wat almal geniet.”

  • Op ±9 maande kan jou kind ander begin groet en “hallo” en “totsiens” waai. Wys haar hoe om te groet deur saam met jou hand te waai.
  • Op 2½ jaar kan jou kind woorde soos “asseblief” en “dankie” gebruik. Wees die rolmodel en gebruik die terme by die huis én voor ander sodat jou kind kan hoor hoe jy dit doen.
  • Op 3 jaar kan jou kind die familie groet met ’n “hallo” en selfs nuwe mense se hand skud. Wys jou kind om handjies voor en na maaltye te was, speelgoed op te tel en sy eie vuil wasgoed in die wasgoedmandjie te sit.
  • Op 3½ jaar kan jou kind al vir kort rukkies in die restaurant stilsit as daar aktiwiteite soos inkleur is om hulle mee besig te hou. Onthou dat party kinders besiger is as ander. Neem dus die situasie in ag voor jy begin raas.
  • Op 4 jaar kan jou kind dankie-sê briefies “skryf” as hulle ’n present gekry het. Laat hulle self onderaan die kaartjie hulle naam skryf of ’n prentjie teken. Jou kind moet ook kan om verskoning vra as ’n wind opgebreek word. Leer hulle presies wat om te sê.
  • Op 5 jaar moet jou kind volwassenes ordentlik groet, oogkontak behou en kan hand skud. Hulle kan ook al die telefoon beantwoord en ’n boodskap neem.
 
 
Website made by Cyber Creations | web design pretoria