HomeLeer jou kind praat

Leer jou kind praat

Die proses om te leer praat begin lank voor jou baba self sy eerste woorde sê. Hiers wat jy kan doen om te help.

Alle babas word gebore met ’n behoefte om te kommunikeer, maar voordat hulle kan praat, moet hul spraakorgane en brein nog baie ontwikkel. Jou baba moet beheer kry oor haar lippies, tong, stembande en asemhaling, om maar ’n paar te noem.

Die fisiese deel van spraak is ’n enorme taak. Dan’s daar ook die intellektuele deel, waardeur jou baba sin moet maak van iets wat sy hoor, en self haar gedagtes moet leer verwoord. Woorde en sinne kry vir jou baba betekenis deur die sosiale aktiwiteite en interaksies waaraan sy deelneem.

As jy dít weet, weet jy hoe om ’n babbelbekkie groot te maak. Hier volg ons praktiese wenke.

Pap baba

Maak ’n punt daarvan om met jou pasgebore baba te gesels, al voel dit aanvanklik vreemd. Jou baba ken reeds jou stem, want hy kon dit hoor in die baarmoeder. Navorsing wys ook dat pasgebore babas reageer op die ritme en klanke van hul moedertaal, terwyl vreemde tale nie dieselfde reaksie ontlok nie.

Dit lyk dalk of hy jou glad nie hoor nie, maar daardie klein breintjie is elke dag besig om patrone neer te lê vir spraak. Praat met ’n singende stemtoon om sy aandag te trek. Vertel waarmee jy besig is wanneer julle doek ruil of bad of gaan stap. Jy hoef nie elke keer iets nuuts uit te dink nie; jy kan dieselfde storietjie oor en oor vertel.

Moedig jou man ook aan om met die nuwe baba te gesels, of sommer uit die koerant voor te lees.

Onder 1 jaar

Soos jou baba ouer word, kan jy begin om woordjies vir hom te herhaal. Hou jou sinne ook eenvoudig. Gee hom geleentheid om jou te antwoord ook, en reageer op sy pogings met groot belangstelling.

Dit sal vir hom baie lekker wees, en hom aanmoedig om met jou te ‘gesels’. Hy sal begin met geluidjies soos ‘grrr’ en ‘ghoe’, en later ‘ê’, ‘aa’ en ‘u’, en vorder tot by ‘m’, ‘p’ en ‘b’. Herhaal gerus die klanke wanneer daar ’n tussenpose is, en gee hom dan weer ’n beurt.

Later sal hy die klankies aanmekaar begin sit. Wag vir daardie toweroomblik wanneer ‘ma-ma’ uit sy mondjie kom. Jou opgewonde reaksie sal daarvoor sorg dat hy dit weer sê.

Die neurone in die brein wat boodskappe oor klank en sig rondstuur, bereik op 8 maande hul piek. Maak die meeste hiervan deur vir jou baba te sing, musiek te speel, en baie te gesels. Tussen 9 en 10 maande oud het jou baba al baie wat hy aan jou wil kommunikeer, maar hy kan dit nog nie in woorde sê nie.

Onder 2 jaar

Hierdie jaar kan jy ’n ‘spraakontploffing’ verwag. Jou peuter se woordeskat sal geweldig uitbrei en teen die einde van die jaar behoort hy al minstens twee woordjies bymekaar te kan las.

Sy kop is vol woorde en planne, waaraan hy nie altyd uiting kan gee nie. Staal jou vir ’n paar frustrasie-uitbarstings.

Teen dié tyd is jy in die gewoonte om te gesels oor alles wat julle doen. Hou aan daarmee, herhaal baie, maar onthou ook om hom kans te gee om saam te praat. Dan moet jy aandagtig luister.

Praat met hom oor sy speelgoed, sy lyfiee, wat hy kan sien en voel. Span sy sintuie in om sy woordeskat uit te brei. Speel speletjies waarin julle geluide naboots, soos die hond se blaf of die ambulans se geloei.

Hy kan sowat 90% van wat jy sê begryp, omdat sy verstaanvermoë baie vinniger ontwikkel as sy spraakvermoë. Maak oogkontak wanneer julle praat. Sit saam met hom op die vloer of sak af tot op sy vlak – dit sal jou kommunikasie baie meer effektief maak.

Onder 3 jaar

Kleuters is dol oor rympies, liedjies en boeklees. Maak dit deel van sy daaglikse bestaan en sy woordeskat sal vinnig uitbrei. Lees boeke met groot prente en vra hom om voorwerpe op die blad uit te wys.

Dan kry jy weer ’n beurt. Maak gerus ’n paar foute (wys byvoorbeeld na die katprentjie en sê ‘boom’) sodat jou slim kind jou kan reghelp. Dis ’n speletjie wat ure se genot gee. As jou kind woorde verkeerd uitspreek, of lomp sinne maak, is die beste manier om dit ‘reg te maak’ bloot om die woord of sin te herhaal soos wat dit eintlik moet wees. Doen dit vriendelik en geselsend.

Kleuters van hierdie ouderdom hou ook van ’n bietjie drama. Oefen dus saam om te uister, of om in piepstemmetjies te praat, of te brul.

Handjies praat

Mense kommunikeer nie net met hul stemme nie. Hul hande en liggame praat saam. Baie babas sal met handgebare hul behoeftes kommunikeer, omdat hulle nog nie oor die vermoë beskik om dit met woorde te doen nie.

Dink maar aan tatta wuif, of ’n vingertjie voor die mond vir ‘sjjjt’ of hoe jou kind na ’n speelding in die winkel kan wys met sy voorvingertjie wat duidelik vir jou sê: mamma, ek wil dit hê.

Babas leer ook vinnig kop knik vir ja, of kop skud vir nee. Dis alles heeltemal in orde. Wat jy as ma egter moet doen, is om die woorde hardop by te sit wanneer jou baba so kommunikeer. Dit sal jou baba motiveer om te praat, en met jou in gesprek te tree.

As jou kind met ’n gebaar vir iets vra, en jy weet hy beskik al oor die vermoë om die woord te kan sê, kan jy gerus ’n rukkie wag en hom aanmoedig om dit te sê voor jy gehoor gee aan sy versoek. Moet hom net nie probeer dwing nie. Hou jou eerder ’n bietjie dom (al weet jy goed wat hy wil hê) en kyk of hy nie dan eerder die woordjie as die gebaar sal inspan nie.

Wenk

Wanneer jou baba teen ses maande vaste kos begin eet, is dit nie net sy voedingsbehoefte wat aangespreek word nie. Die kou-aksie is ’n belangrike ontwikkelingsmylpaal wat spraakontwikkeling aanhelp. Dit oefen die spiere in die kaak en tong.

Nog oefeninge: blaas borrels, blaas ’n kersie dood, blaas en suig deur ’n strooitjie.

Rooi Lig

Die televisie gaan jou kind nie leer praat nie. Sit dit af. Die klank wat uit die televisie kom is eenrigtingkommunikasie. Jou kind sit en ontvang dit passief. Vir jou kind om te leer praat, het sy tweerigtingkommunikasie nodig.

 
 
Website made by Cyber Creations | web design pretoria