HomeDissipline

Dissipline

Dissipline

Dissipline, 'n gelaaide woord wat sekerlik gemengde gevoelens by die meerderheid van die mensdom ontlok!  'n Versugting in die harte van bekommerde ouers en opstandige verwerping deur rebelse tieners.  En tog, watter voortreflike resultate kan dit nie oplewer nie... 

Dit is waar, elke kind moet af en toe bederf of vertroetel word.  Dit is ook waar dat 'n kind verdien ook 'n regmatige deel van sy ouers se liefde, tyd en aandag omdat dit hulle bemind en veilig laat voel.  Maar wanneer kinders oorlaai word met besittings of enigiets kry wat hulle vra, of voordurend die middelpunt van die aandag is, selde of nooit gedissiplineer word nie en hulle behoeftes altyd voor die van hulle ouers of ander mense gestel word, sal hulle grootword met die idee dat die wêreld heeltyd om hulle draai en 'n baie veeleisende mens word. 

Kom ons gaan staan vir 'n oomblik stil by die definisie van dissipline soos dit in die HAT staan.  
Dissipline: gehoorsaamheid aan gesag; ordelike gedrag. 

Ons enkele gedagtes rondom dissipline wissel, maar daar word veral in hierdie opsig gedink aan dissipline in die skool. Die woord dissipline wek soms 'n uiteenlopende reeks van reaksies.  Dikwels voel mense dat daar soms "te veel dissipline" by 'n skool is en ander voel soms dat daar "te min" dissipline in 'n skool is en hierdie verskillende opinies kan gehuldig word ten opsigte van dieselfde skool! 

Sommige mense gaan goed om met dissipline en voel dat dit nodig is, terwyl ander voel dat dissipline 'n ou uitgediende stelsel verteenwoordig.  Die terme "dissipline in die skool" kan soos volg geïnterpreteer word. 

Die doel van dissipline (ordelike gedrag) is dat die leerders se gedrag van so 'n aard is, dat hulle nie ander leerders se onderrigtyd "steel" nie en dat die leerders se gedrag 'n kultuur van effektiewe leer en opvoeding daar stel en ondersteun. 

Dissipline kan op twee uiteenlopende wyses gehandhaaf word, soos deur negatiewe kondisionering (straf) of positiewe kondisionering (beloning).  Maar die resep vir sukses van funksionele dissipline is en bly maar selfdissipline. 

Goeie dissipline begin dus nie by die skool nie, maar tuis!  Ons as ouers moet begin om verantwoordelikheid vir ons kinders se dissipline orals te aanvaar.  Of dit nou in die klaskamer is of op die speelgrond, in die dorp, by 'n restaurant of selfs by familie en vriende.  Ons behoort ons kinders so groot te maak dat hulle funksioneel binne die klas kan funksioneer en nie ander kinders of die onderwyseres se onderrig en tyd steel nie of die opvoedkundige situasie saboteer nie.  Dissipline gaan gepaard met verantwoordelikheid en kinders behoort dit reeds van kleins af te leer en te aanvaar.  Slegs ouers, wat binne die sosialiseringskring van die gesin is, kan die geleentheid skep vir die ontwikkeling van die kind se sin vir verantwoordelikheid. 

Dissipline wat by enige opvoedingspatroon aangeplak word, gaan ongelukkig jammerlik misluk.  Die effek daarvan is vandag maar te sigbaar in die meeste openbare skole.  Om effektief te wees, moet dissipline ten nouste verweef wees met die gesagsdraers, naamlik die ouers.  Doen mens dit nie, sal die kinders gou insien dat die waardes en die dissipline wat mens probeer bevorder, vals voorkom.  Die aanvaarding van dissipline is 'n groeiproses.  Die ma en pa moet dus altwee hulleself afvra:  Wat is ons gesin se korttermyn en langtermyn visie?  Op die korttermyn, wil ons hê dat ons kinders ons gehoorsaam. 

Op die langtermyn, bid ons dat ons kinders 'n gedissiplineerde Christelike leefwyse hul eie sal maak.  In die opvoeding van ons kinders is daar vrae wat die meeste ouers kwel.  Wanneer moet my kind kleuterskool toe gaan?  Hoe vroeg kan ek my kind leer lees?  Wanneer stel ons hulle aan sportopleiding of kunsklasse bloot?  Ons wil ons kinders so graag ontwikkel.  So graag die beste geleenthede gee om hulle talente te ontplooi. 

Maar, as jy versiende is, begin jy by die begin.  By die vorming van sy gees.  Mamma en Pappa dra hulle ongebore kindjie reeds aan God op in gebed terwyl dit nog onder die hart gekoester word.  Hierdie kind wat 'n seëning uit God's hand is, moet uiteindelik weer aan God afgestaan word.  Die beste voorbereiding begin sodra jou kind die verskil tussen ja en nee kan verstaan.  By die toepassing van eenvoudige dissipline wanneer die kinders nog babas is.  Dan begin die allernoodsaaklike taak om die kind te lei om sy ouers te gehoorsaam. 

Die groot vraag is net: Hoe leer kinders dan om gesag te gehoorsaam?  Hoe kry ouers dit reg dat hulle kinders hulle gehoorsaam?  Die antwoord is eenvoudig!  Deur ferm, liefdevol en konsekwent te wees.  Wanneer?  Van opstaantyd, deur die dag, aan tafel met maaltye en met slaaptyd.  Kortom - altyd!  Regtig? 

Ja, want kos word blitsig 'n magtige wapen teen ouerlike dissipline.  Die kind moet van meet af geleer word om te eet wat voorgesit word.  As pap ingeskep is, mag hy nie twee happies eet, dan op brood aandring en net daarna 'n appel gryp en twee happe daaruit neem, terwyl ons as ouers alles gelate toelaat ter wille van die vrede nie.  Ons kan nie God dank vir die kos en net daarna kla dat ons dit nie wil hê nie, of nie meer daarvan hou nie, of dat dit nie meer lekker is nie. 

Slaaptyd en bed toe gaan is 'n groot verklikker van wie die hef in die hand het.  Meeste van die tyd wen die kind!  Hoe betrokke die pappa by sy kinders is, is hoe effektief die dissipline is.  Besluit saam oor 'n geskikte tyd.  Hou daarby. Gaan kamer toe saam met die baba, gee aan hom/haar aandag totdat hy/sy rustig slaap of tevrede alleen sal agterbly.  Druk deur, moenie aarsel nie.  'n Heen en weer geskarrel kamer toe maak dat die kind jou nooit sal glo as jy sê dis slaaptyd nie.  Pa moet maar inspring en help want twee se uithouvermoëns en kragte is beter as een.  Die pappa se bors is 'n mobiele bed wat sekuriteit verskaf en 'n brug tussen die bekende en die onbekende wanneer mens op besoek is in 'n vreemde huis. 

'n Ferm maar besliste pappahand op die lyfie bring 'n wriemelende mensie uiteindelik tot bedaring, as die praktyk dit leer dat aan die geduldige deursettings-vermoë nie ontkom kan word nie.  Probleemgedrag wat ontstaan rondom bed toe gaan tyd, is heel dikwels direk toe te skryf aan onvoldoende aandag van die ouers of onkonsekwente optrede. 

Die kind kan nie daarvoor gestraf word nie en die ouers moet verantwoordelikheid hiervoor aanvaar.  Dit vra opoffering om verskoning te maak by jou gasheer of gaste en jou te onttrek om jou kinders tot ruste te bring, maar dis tot almal se beswil. 

Verder, formuleer ten alle tye opdragte eenvoudig en duidelik.  Buk af en kry jou kind se aandag deur hom op sy naam aan te spreek.  As hy op die eetkamertafel geklim het, moenie sê: "Dis nie mooi om op die tafel te klim nie."  Hy's klaar daar!  Sê: "Andries, klim dadelik van die tafel af!" 

Dis 'n ondubbelsinnige opdrag.  As hy nie dadelik reageer nie, tel hom ferm af met 'n raps op die boudjie.  Deur volgehoue konsekwente optrede moet ons kinders geleer word om onmiddellik gehoorsaam te reageer.  'n Klein kindjie kan 'n ligte vingertik ontvang.  As hy luidkeels begin skree of homself op die grond neergooi, wys hy dat hy beheer verloor het. 

Tel hom op, hou hom vas tot hy tot bedaring kom, sonder om op hom te begin skree.  Hy sal jou nie hoor nie.  Jou kind mag ook nie weet dat hy jou ontstem met sy reaksies nie.  Bly kalm en praat ferm en dring aan op onmiddellike reaksie.  Dit help dus nie as jou kind op drie of vier kan lees, skryf, somme maak of selfs die name van Bybelboeke kan opnoem, of 'n tweede taal begin aanleer en hy verstaan nie die verskil tussen ja en nee in sy eie taal nie. 

Dus, dissipline en aandag begin reeds van dag een af.  Wees vasbeslote, al kos dit baie moeite en nog meer trane.  Doen dit sonder om kras te wees. Maar duld geen teëpratery en geen versuim.  Die gouste om 'n kind te bederf, is om hom sy sin te gee en om hom toe te laat om verkeerd op te tree, sonder om hom te tugtig. 

Moenie van jou kinders afgodjies maak nie.  God mag later die wangedrag van hierdie selfde afgode gebruik om ons deur smart van ons dwaasheid te oortuig.  Leer om vir jou kinders "nee" te sê!  So leer kinders om Bybelse gesag te respekteer.  Ons handhaaf ouerlike verantwoordelikheid en gesag, omdat God dit beveel.  Dis in gehoorsaamheid aan Hom dat ons, ons kinders lei en tugtig.  Ons is nie slegs besig om ongewensde gedrag te beheer nie.  Ons moet dus ook voortdurend arbei om ons kinders te leer dat hulle eerstens onder die onmiddellike gesag van God staan.  Dit beteken dus beheersing van die eie wil en onderwerping aan Sy wil. 

Dit is soms moeilik om 'n middeweg te vind tussen liefde en te veel toegeeflikheid. Soms is dit makliker om die kind te bederf en té toegeeflik te wees. Veral by tye wanneer die kind siek is en veral as die siekte herhaaldelik voorkom. 

As mamma moet werk, kan sy skuldig voel omdat sy nie by haar kind kan bly nie en probeer dit reg maak deur die kind ten alle tye sy/haar sin te gee.  Dieselfde tel wanneer pappa baie weg is van die huis of as die ouers geskei is. Partykeer, as die een ouer baie streng is sal die ander ouer daarvoor probeer vergoed deur té toegeeflik te wees. 

'n Enigste kind, of 'n kind vir wie die ouers lank gewag het, of een wat die eerste of enigste kleinkind is, word gewoonlik ook bederf.  Oumas en oupas bederf soms so 'n kind tot in die afgrond in teen ma en pa se wil, maar dié voel magteloos. 

Ouers wat arm grootgeword het, wil dalk vir hulle kind gee wat hulle nooit self gehad het nie.  As die kind se maats baie besittings het en die ouers nie hul kind wil laat agterbly nie, sal hulle hul kind moontlik ook bederf. 

Jean-Jacques Rousseau- Die mens word vry gebore, maar oral is hy in kettings.


 
 
Website made by Cyber Creations | web design pretoria