HomeDie HOEKOM stadium

Die HOEKOM stadium

Mamma, hoekom is die lug blou? Mamma, hoekom het Liewe Jesus wolke gemaak, en waar kom die wolke vandaan?

Vir menige ouer is hierdie die tydperk waar jou geduld die MEESTE getoets word. Nie net is dit irriterend nie maar ook uiters normaal en almal beleef dit op een of ander tydperk van hulle kinders se ontwikkeling.

'n Wonderwerk gebeur teen 3 jaar oud - jou kind raak taalvaardig! Kort voor lank gee jou kind se gesprekkies jou 'n kykie in hulle hart en klein beperkte wêreld. Gesprekke tussen julle is nou 'n wonderlike geleentheid om jou kind te laat voel dat jy in hom/haar belangstel en om aan hom/haar se houding en opvatting oor die lewe te begin skaaf.

Doen moeite om nie net met jou kind te praat nie, maar ook om te luister. Vind uit wat jou kind van sekere sake dink en hoe daar by die redenasie uitgekom word. Wees verseker dat sy van haar kant af geen moeite sal ontsien om alles van die wêreld te wete te kom nie. Haar vrae behoort verseker 'n toets vir jou algemene kennis te wees! Natuurlik gaan jy nie altyd weet waarom miere swart is of hoe 'n televisiestel werk nie. Indien jy dit regkry om 'n goeie antwoord te gee, moenie verbaas wees as sy reeds met vraag twee tot tien gereed staan nie.

Jy kan en mag natuurlik erken dat jy nie al die antwoorde op al die vrae het nie, maar dit is 'n goeie geleentheid om jou kind te leer dat 'n mens inligting ook op ander plekke as net by pappa en mamma kan kry.

Begin om van jou kind se vrae in 'n boekie neer te skryf. Laat haar elke dag 'n vragie kies wat julle verder kan gaan navors, of gebruik jou Saterdag om jou kind biblioteek toe te neem en aan die wonderlike wêreld van boeke bloot te stel. As jy 'n ruskans nodig het (dit is normaal!), kan jy "stiltetyd" instel.

 
 
Website made by Cyber Creations | web design pretoria