HomeAs kinders byt

As kinders byt

Vir ure na die insident kon ek nog die merke gesien het van waar die een seuntjie die ander een gebyt het . Blykbaar het een van die maaitjies gefrustreerd geraak en die ander een net 'n vinnige hap gegee om die situasie te probeer verduidelik. Miskien het die een seuntjie met 'n speelding gespeel wat die ander een graag wou hê, of miskien het die een maatjie die ander maatjie se karretjie geneem, sonder permissie natuurlik. Wie sal weet wat gaan aan in die brein van 'n 18 maande oue kind?

Ongelukkig is die kleintjie se woordeskat nog nie sterk genoeg uitgebrei om aan ons te verduidelik wat gebeur het nie en so ook kon hy nie vir die ander maatjie sê wat hom kwel of frustreer nie. Al wat hy kon doen was; HAP! Ongelukkig was dit toe op die spesifieke maatjie se wang. In die meerderheid van die gevalle is is altwee die kinders ewe verbaas en verras deur dit wat nou net gebeur het.

Die onderwerp is gewoonlik baie sensitief vir ouers. Al is die moontlikheid vir blywende skade egter minimaal kyk ons na kinders wat byt anders as wat ons sou kyk na kinders wat skop en slaan. Die meeste voorvalle van kinders wat byt is gewoonlik tussen die ouderdomme van 18 maande tot 3½ jaar. Die voorvalle reflekteer gewoonlik nie net die kind se emosies nie maar ook hulle vlak van kommunikasie of hulle onvermoë om hulle gevoel of emosies in woorde om te skep.

'n Vyfjarige kind kan byvoorbeeld maklik vir sy maatjie laat verstaan om sy karretjie te los deur te sê "Jannie, los my karretjie. Dit is myne". 'n Tweejarige kind kan dit nog nie verbaliseer nie so hoe beskerm hy sy eindom; met sy tande! Onthou net die ge-bytery is gewoonlik nie 'n vooraf beplande insident nie en gebeur altyd op die ingewing van die oomblik.

Woede of frustasie is nie altyd die enigste oorsaak vir die gebytery nie; sommige kinders sal selfs byt as hulle gelukkig of opgewonde is. Die meerderheid van alle kinders sal op een of ander stadiuum byt. Dit is ons as ouers en leerinstellings se verantwoordelikheid om kinders te lei na 'n ander en beter alternatief.

Die volgende is om u te help om die probleem te hanteer

1. Verstaan waarom jou kind byt: Meeste van die tyd gebeur dit uit frustrasie, alhoewel daar ook ander redes is, is dit die mees algemeenste rede. En watter beter manier kan daar wees om 'n maatjie se aandag te kry of te wys dat hy kwaad is vir 'n maatjie deur te byt? Bytery bereik 'n hoogtepunt tussen 18 maande en 3 jaar, wanneer 'n kind reeds 'n aantal vaardighede onder die knie het, maar nie die woorde het om homself in uit te druk nie. "Die bytery hou gewoonlik op wanneer die kind 'n groter woordeskat kry om homself uit te druk."

2. Wat is die bron van bytery? Dit help om notas te maak van wanneer jou kind byt bv Sarel het vir Gertjie gebyt terwyl hulle gespeel het en Gertjie sy speelding geneem het of Saartjie het Marinda se pop gehad, dit was etenstyd en Piet het Koos se lepel gevat, dit was slaaptyd en … Jy sal wel vinnig genoeg agterkom wat die wortel van die kwaad is en weet hoekom jou kind byt.

3. Spreek dit aan Hoewel jy nou besef hoekom jou kind byt beteken dit nie dat jy dit net so moet los nie. Daar is 'n paar verskillende senario's waarna ons moet kyk in die hantering van die situasies;

REAKSIE

Op die ouderdom is 'n kind se konsentrasie vreeslik kort so hoe langer jy neem om die probleem aan te spreek hoe minder effektief gaan dit wees. Probeer om die situasie dadelik te hanteer. Neem die kind en sê Nee, dit is baie seer. Moenie byt nie! En dan sit jy 'n baie ongelukkige gesig op. Speel met jou gesigemosies om aan jou kind die verskillende emosies ,seer, ongeluk ens uit te beeld.

As 'n aandagsoekery nie die nodige uitwerking het nie, is dit nie baie doeltreffend nie en begin die peuter leer dat hy iets anders sal moet doen om jou aandag te kry. Jou kind moet die boodskap baie hard en duidelik kry dat jy nie sal toelaat dat hy sy frustrasies op jou en die mense rondom jou uithaal ofseermaak nie. Wanneer 'n kind dit van jongs af leer, sal hy later leer om homself ook te beskerm teen kinders of mense wat hom wil seermaak.

Nog 'n ander manier of benadering is om die kind se gedrag in 'n ander rigting te stuur. Wanneer hy 'n kind byt oor 'n speelding, tel hom ferm op en sê met 'n streng stemtoon: "Geen bytery nie. Ons byt nie in ons huis nie! Kom, gee Mamma liewer 'n soentjie en dan kan jy sy aandag aflei met 'n ander speelding of die maatjie vra om te deel. Gee baie aandag aan die maatjie sodat hy sien negatiewe optrede kry nie positiewe terugvoer nie.

4. Mag ek my kind terugbyt?

Nee, nee, nee! Dis die laaste ding wat jy wil of moet doen! Draai die situasie om en kyk bietjie so daarna: Veronderstel jy wil hê jou kind moet ophou gil en skree. Gaan dit werk as jy vir hom kliphard skree: "Hou op gil en skree!"? Nee, jy versterk net die boodskap dat dit aanvaarbaar is om te skree.

Sommige ouers meen egter, ek wil hê my kind moet voel hoe seer dit maak as hy ander mense byt. Die oplossing is eerder om hom eenkant toe te neem, te vra hy moet vir jou sy tande wys en dan sy eie voorarm ontbloot. "Byt nou. Dan voel jy hoe voel dit." Doen dit onmiddellik nadat hy jou of iemand anders gebyt het.

Wat nou gedoen as jou kind by die huis kom met 'n horlosie bytmerk op sy arm? Teken syfertjies 1 - 12 en leer hom tyd!

Jean-Jacques Rousseau- Die mens word vry gebore, maar oral is hy in kluisters

 
 
Website made by Cyber Creations | web design pretoria